Seuns eksamen belet oor hul hare
2011-11-23 09:01
Kaapstad – ’n Ouer se hare het Dinsdag van woede gerys oor ’n skoolhoof in die noordelike voorstede wat kwansuis hare wil kloof oor die skool se haarbeleid.
“As hulle ’n militêre kamp wil hê, dan weet ek wat hulle soek,” het Gerhard Zimmerman, ’n ouer van ’n leerder aan die Hoërskool Tygerberg, gesê. “Ek verstaan nie wat hulle deesdae as onnet klassifiseer nie.”
Sy seun was een van sowat 20 gr. 11-seuns van dié skool wat Dinsdagoggend uit ’n eksamenlokaal gehaal en gevra is om eers hul hare te laat sny voordat hulle met die eksamen begin.
“My probleem is net die tydsberekening. Binne-in die eksamen. Dit lyk so of hulle wil sê: As ons jou nie kan bestuur nie, dan gaan ons jou skrikmaak.”
Fanie de Goede, adjunkhoof van die skool, het gesê die seuns se hare was “onaanvaarbaar lank”. Volgens hom het die skool ’n gedragskode wat elke ouer onderteken wanneer hulle die kind by die skool inskryf.
“Dit sê miskien nie in millimeters hoe lank leerders se hare moet wees nie, maar ons hou gereeld inspeksies waartydens daar individueel vir leerders gesê word as hul hare te lank is.”
’n Warm debat het onlangs in Die Burger ontstaan toe die Hoërskool D.F. Malan in Bellville geweier het om matrieks se eksamennommers uit te reik voordat hul hare gesny is.
“Die afgelope paar weke het ons herhaaldelik versoeke aan dié kinders gerig,” het De Goede gesê. “Vandag het dit net by ’n punt gekom waar ons vir hulle gesê het: Gaan maak die saak reg, sodat jy om 11:00 kan terugkom en eksamen kan skryf.”
Volgens hom het hy in ag geneem dat daar leerders was wat nie in staat was om op kort kennisgewing iets aan die saak te doen nie. Hy het hulle ouers telefonies gekontak.
Paddy Attwell, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het gesê skole is nie by magte om te weier dat leerders eksamen skryf omdat hulle hare te lank is nie.
Dit is egter die plig van die skool se beheerliggaam om riglyne oor leerders se voorkoms te bepaal.
Die leerders ter sprake het Dinsdag almal eksamen geskryf.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger