Seun wil uit skool ná foutiewe dwelmtoets
2011-03-29 07:15
Welkom – ’n Vyftienjarige skoolseun van die stad is so getraumatiseer nadat hy foutiewelik by sy skool positief vir die gebruik van dwelms getoets is, dat hy nou van skool gaan verander, sê sy pa.
Barry Scheepers sê hy is woedend oor die wyse waarop sy seun Aubrey by die Hoërskool Riebeeckstad behandel is.
“Aubrey is nie ’n engeltjie nie. Ek weet hy rook en jaag ander kattekwaad aan, maar toe die skool my verlede week bel en sê hy is positief vir dagga, tik en ecstacy getoets, was ek baie geskok.”
Aubrey het egter volgehou dat hy niks dwelms gebruik het nie en het sy pa gesmeek om hom vir nog ’n toets te neem.
“Die bloedtoets, wat meer akkuraat is, was negatief. Maar die hele skool dink nou Aubrey is ’n dwelmgebruiker.”
Scheepers sê Aubrey gebruik medisyne en dit kon dalk ’n invloed op die uitslag van die toets gehad het.
Gert Viljoen, skoolhoof van Riebeeckstad, het verlede week vir Aubrey en ’n meisie ingeroep omdat van die leerlinge gekla het hulle ruik na dagga.
Polisiebeamptes van Riebeeckstad was toevallig ook dié dag by die skool en het die twee se tasse deurgesoek.
“Een van die polisiebeamptes het ’n begrafnisbrief van ’n vriendin van Aubrey in sy tas gekry. Die meisie is verlede jaar weens leukemie oorlede. Die polisiebeampte het die brief voor Aubrey se neus geswaai en gevra of hy wil hê dít moet met hom ook gebeur,” sê Scheepers sr.
Aubrey en die meisie is toe vir urinemonsters gevra, wat weggeneem is om getoets te word. “Hoekom is ek nie in kennis gestel nie? Natuurlik sal ’n 15-jarige instem tot ’n urinetoets as twee polisiebeamptes en onderwysers voor hom staan. Ek sou ook tot ’n toets ingestem het, maar ek sal teenwoordig wou wees om te verseker dat die monsters op die regte manier geneem word.”
Scheepers sê hy is eers van die uitslag van die toetse verwittig nadat Viljoen dit teruggekry het.
Scheepers het daarop aangedring dat Viljoen vir die hele skool sê dat Aubrey se toets negatief was, wat hy wel gedoen het. “Maar die stigma bly kleef. Aubrey sê almal kyk hom snaaks aan. Hy kry baie swaar. Ek wil graag hê ouers moet weet wat by skole aan die gang is.”
Viljoen sê hy is tevrede met die prosedure wat by die skool gevolg is. “Ek het nooit bekend gemaak dat daar eens ’n vermoede was dat Aubrey dagga gebruik het nie, maar ek het wel nadat sy pa by my was, vir al die leerlinge gesê Aubrey se toetse was negatief.”
Hy sê die toets wat gedoen is, is net ’n “screening” deur ’n plaaslike dokter.
“Ek glo nie ’n kind is in die proses benadeel nie. Ons kan dit nie net los as ons vermoed ’n kind is met dwelms deurmekaar nie.”
Viljoen sê ’n video-opname is gemaak van wat in die kantoor gebeur het.
Miné Reynders, maatskaplike werker van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkohol- en Dwelmmisbruik (Sanra) in Welkom, sê sy kan haar nie oor die spesifieke voorval uitspreek nie, maar sê dwelmtoetse kan baie omstrede wees.
“Ek beveel aan dat die toetse liefs deur ’n professionele persoon soos ’n verpleegsuster gedoen moet word vir korrekte insameling van ’n monster. Die toetse wat in ’n laboratorium gedoen word, is baie meer akkuraat, maar dit is ook baie duurder.”
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die leerlinge is met die skoolhoof se toestemming deurgesoek.
“’n Interne ondersoek is reeds aan die gang oor die begrafnisbrief en daar sal opgetree word indien nodig.”
Volg Nuus24 op
Twitter
- Volksblad