Seun voor klas met mes doodgesteek
2010-01-21 07:36
Senekal – ’n Leerling van die Sekondêre Skool E.E. Monese het Woensdag ’n skoolmaat voor ander kinders en onderwysers in ’n klaskamer met ’n mes doodgesteek.
Die slagoffer, Bongani Bodman, en die vermeende messteker, albei 17, het glo in pouse ’n uitval gehad. Die vermeende messteker het die skool na bewering verlaat om ’n mes by sy huis te gaan haal. In die klaskamer het hy Bodman twee keer in die bors gesteek.
Tseko Lekoala, die skoolhoof, sê dit is “verskriklik. Ek het nog Maandag in die saal vir die leerlinge die reëls uitgelê. Geen leerling of onderwyser mag wapens by die skool hê nie. Ons beleid oor wapens is baie duidelik.
"Die leerlinge het glo pouse al baklei. Ná pouse het hulle klasse verwissel. Die voorval het so vinnig gebeur. Die onderwysers en baie van die leerlinge in die klas het dit nie eens gesien nie,” sê hy.
“Ek het die leerling (vermeende messteker) gevra hoekom hy dit gedoen het. Hy het vir my gesê hulle het pouse baklei. Hy het vir die oorledene gesê hy gaan ’n mes by die huis haal en hom ná pouse kom steek.”
Hy sê almal is nog baie verward.
“Albei die leerlinge was so beskeie. Hulle was nog nooit in my kantoor weens gedragsprobleme nie.”
Lekoala sê amptenare van die departement van onderwys sal die skool vandag besoek om vir die leerlinge en onderwysers berading te gee. Die Vrystaatse onderwysdepartement betreur wat gebeur het, sê Howard Ndaba, woordvoerder.
Die departement het sy meegevoel teenoor die familie van die oorledene uitgespreek. Ndaba sê die departement sal die voorval ondersoek.
Sers. Majang Mosupa, polisiewoordvoerder, het gesê die vermeende messteker is in hegtenis geneem en steeds in aanhouding. Sy sê dit is ook vir die leerling se eie veiligheid, want ander leerlinge is kwaad en kan hom moontlik leed aandoen.
Volgens Mosupa sal die vermeende messteker Donderdag in die Senekal-landdroshof verskyn. Die leerling kan moontlik na ’n korrektiewe sentrum vir jeugmisdadigers oorgeplaas word. Die familie van die oorledene kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.
- Volksblad