Seun sterf ná hou: ‘Lyk of bakleiery skeefloop’
2011-04-09 07:50
Johannesburg - Dit wil voorkom of die dood van die Hoërskool Westonaria se eerstespan-rugbykaptein in November die gevolg van ’n normale skoolbakleiery was wat skeefgeloop het, het ’n landdros Vrydag gesê.
“In ag genome die getuienis is ek nie heeltemal oortuig daarvan dat die staat moord met opset sal kan bewys nie,” het landdros Riaan de Bruin in die Westonaria-streekhof gesê.
“Daar sal moet bewys word dat hulle kon voorsien dat noodlottige gevolge tydens die wraakaanval sou intree.”
Twee 19-jariges, mnre. Sibusiso Ntuli en Ndiphiwe Mkungekwana, word saam met mnr. Kenneth Mdingi (22) van die moord op Louwrens Gebhardt (18) aangekla.
Borgtog van R2 000 elk is Vrydag aan Ntuli en Mkungekwana toegestaan, maar Mdingi se aansoek om borgtog is geweier omdat hy as ’n vlugrisiko beskou word.
Die hof het Vrydag gehoor die twee 19-jariges het op die dag van die voorval stokkies gedraai en Mdingi gaan haal om ’n 17-jarige skoolmaat met ’n pyp en houtstok te slaan.
Toe die 17-jarige ná skool in sy ma se motor wou klim, het Ntuli hom na bewering drie vuishoue toegedien.
Louwrens het tussenbeide getree om die geveg stop te sit.
Mdingi het na bewering ingespring en hom geslaan met ’n houtstok wat soos ’n bofbalkolf lyk.
Louwrens is twee dae later, op 6 November verlede jaar, breindood verklaar.
Die drie word van moord en aanranding aangekla.
“Dit is inderdaad baie hartseer dat ’n jong man sy lewe verloor het, wat vermy kon gewees het,” het De Bruin in sy uitspraak in die borgtogaansoek gesê.
“ ’n Mens het simpatie met die ouers en veral skoolmaats en gemeenskap wat so deur die gebeure getraumatiseer is.”
De Bruin het sy bekommernis uitgespreek omdat Ntuli en Mkungekwana – wat aanvanklik ná hul skorsing uit die skool ’n afwentelingsprogram sou ondergaan – skielik van moord aangekla is.
“Soos dinge nou staan, kan die beskuldigdes hulle beroep op die verweer van selfverdediging.”
Die landdros wou weet hoekom die seun wat Ntuli die dag voor die voorval in ’n klaskamer met die vuis geslaan het nog nie gearresteer is nie.
Die drie moet Woensdag weer in die Protea-Suid-streekhof in Soweto verskyn.
- Beeld