Seun op munisipale bus gesteek, beroof
2009-08-29 07:51
’n Hoërskoolleerling het gistermiddag op ’n munisipale bus in East Lynne in Pretoria ’n 13-jarige laerskoolseun in die been en arm gesteek en hom van sy selfoon beroof.
Tjaart du Plessis, ’n gr. 7-leerling aan die Prospectus Novus-skool vir leerlinge met leergestremdhede, het gister huilend vertel hoe hy daarna die busbestuurder om hulp gevra het, maar dié vir hom gesê het hy praat nonsens.
Volgens Tjaart het hy soos gewoonlik ’n bus van die skool in Paul Krugerstraat af tot in die stad geneem en toe van die stad af na East Lynne.
“Ek het so 14:10 op die bus geklim. Toe ons in East Lynne gery het, het ’n hoërskoolseun langs my kom sit en my selfoon geëis. Ek het gesê nee en toe steek hy my eers in die regterbeen en toe in my regterarm.
“Hy het toe my foon gegryp en van die bus afgespring en weggehardloop. Ek het vir die busbestuurder geskree om my te help, maar hy het gesê ek praat nonsens,” het Tjaart snikkend vertel.
Tjaart het toe maar stil gesit totdat hy in Alicestraat in East Lynne moes afklim.
Tjaart het gesê hy sal die seun herken as hy hom weer sien.
’n Erg omgekrapte Nico Du Plessis, Tjaart se pa, het gesê hy en sy seun is gister kort ná dié voorval na die busdepot in East Lynne waar hulle die voorval aangemeld het.
Hulle is daarna na die Villieria-polisiekantoor om ’n saak aanhangig te maak. “By die polisiekantoor het die polisiemanne in die aanklagkantoor vir ons gelag. Hulle was ook snaaks toe hulle vra of ons die seun wat Tjaart gesteek het, se naam ken,” het hy gesê.
Die stasiebevelvoerder het gesê sy sal sorg dat Tjaart reg gehelp word.
’n Inspekteur by die munisipale busdienste het gesê hulle het gister al die voorval begin ondersoek deur die busbestuurder te identifiseer.
“Ons gaan ook die metropolisie se hulp inroep om te kyk of hulle die seun kan opspoor.”
Du Plessis sou gister sy seun vir mediese behandeling neem.
’n Klag van aanranding en diefstal is aangelê.
- Beeld