Seun met baksteen aangeval
2011-03-16 08:50
Stellenbosch - ’n Tienerseun van die Helderberg-omgewing het ’n noodoperasie ondergaan nadat hy na bewering by ’n partytjie met ’n baksteen aangerand is.
Ruan van Rooyen (15) was Vrydagaand ’n gas by ’n partytjie op ’n kleinhoewe langs die Sweetwaterspad tussen Somerset-Wes en Gordonsbaai.
Hy en ’n vriendin het van die groep af wegbeweeg. Omstreeks 21:30 het ’n man uit die omliggende bosse verskyn en Van Rooyen aangeval, het ao. Nicolaas Beukes, Gordonsbaai se polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens Beukes het die aanvaller die seun met ’n baksteen teen die kant van sy kop geslaan. Sy selfoon is gebuit.
Die seun is met skedelbreuk na die Vergelegen Medi-Clinic gebring, waar hy ’n noodoperasie ondergaan het.
Die seun was Dinsdag nie meer in dié hospitaal nie. Dit is onduidelik wanneer hy ontslaan is.
Die polisie ondersoek ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die verdagte is steeds op vrye voet. Volgens Beukes het die polisie nie ’n duidelike beskrywing van die man gekry nie omdat dit donker was, behalwe dat hy ’n donker gelaat het.
Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, konst. J.R. Delport, by 021 856 2317/18 te kontak.
Die seun en sy ouers kon nie bereik word vir kommentaar nie.
- Die Burger