Seun kry skadevergoeding
2009-09-18 15:29
Pretoria – Die seun van ‘n senior SA Reserwe Bank amptenaar wat aangerand is en ‘n polisiewa gegooi is terwyl sy pa sterwend in hulle oprit gelê het, is R50 000 skadevergoeding toegedien.
Pretoria se hooggeregshof het die minister van polisie opdrag gegee om R50 000 aan Björn Gugger uit te betaal nà sy onwettige aanranding, inhegtenisneming en aanhouding.
Regter Henk Havenga het egter nog nie ‘n uitspraak gemaak op die R2.3 miljoen wat die weduwee, Rosemay Gugger op aanspraak maak nà die verlies van haar man nie.
Haar man, Eric Gugger, is in Augustus 2004 deur voormalige polisie inspekteur, Daniel Pienaar, buite sy huis doodgeskiet.
Gugger is dood nadat Pienaar hom in die bors en been geskiet het buite sy huis in Pierre van Ryneveld in Augustus 2004.
Die skietery het plaasgevind weens 'n tragiese misverstand.
Gugger snr. het die betrokke dag buite gewag terwyl hy gedink het sy seun word deur kapers gejaag.
Pienaar het vroeër getuig dat hy en twee kollegas met twee verdagtes op pad was na die polisiestasie, toe Björn met ‘n motor sonder nommerplate verby hulle gejaag het.
Hy het glo amper ‘n ongeluk veroorsaak en geweier om te stop.
Hulle het hom gevolg terwyl hy deur rooi verkeersligte gejaag het, aan die verkeerde kant van die pad gery het en amper ‘n petroljoggie omgery het.
Tot by sy huis in Pierre van Ryneveld het die polisielede hom gevolg.
Gugger snr. het toe glo buitentoe gegaan met 'n vuurwapen en dit op Pienaar gerig, skynbaar onder die indruk dat laasgenoemde 'n kaper was.
Volgens Pienaar het hy instinktief omgedraai toe iemand hom van agter op die skouer gryp en vir hom sê dat hy moet stilstaan, anders gaan hy doodgemaak word.
Gugger snr. het Pienaar gevra wie hy is, en toe Gugger snr. steeds die vuurwapen teen sy nek hou nadat Pienaar verduidelik het dat hy 'n polisielid is, het hy besluit om vir Gugger snr. teen te sit.
Toe Gugger die vuurwapen weer in sy rigting draai, het hy (Pienaar) hom drie keer geskiet.
Senior advokaat Nic Maritz het gesê dat Eric Gugger moontlik gedink het dat die polisie kapers was, maar dat Pienaar dit nie geweet het nie.
“Ek het nie geweet wie die man was, hoekom hy ‘n vuurwapen het en waar hy vandaan gekom het nie. Ek het my besluit baseer op die feit dat hy ‘n vuurwapen teen my nek gehou het en my moontlik sou skiet,” het Pienaar getuig.
“Ek glo dat enigiemand anders in daardie situasie dieselfde sou optree. Ek dink nie mense rig vuurwapens op ander vir ‘n grap nie. Dit was normaal vir my om te dink hy gaan my skiet.”
Graham Bester, advokaat vir die polisie, het aangevoer dat die hof nie die voorval in isolasie kan beoordeel nie.
Hy het aangevoer Pienaar het nie tyd gehad om die situasie op te weeg nie, maar het homself in ‘n lewensgevaarlike situasie verdedig.
Hy het daarop gewys dat enige polisieman in Pienaar se posisie dieselfde sou gedoen het.
Verder het hy geargumenteer dat Björn vir Pienaar onwettiglik aangeval het, ongeag die feit dat hy die polisieman vir ‘n kaper misgis het.
Bester het gesê dit was ‘n tragiese aanloop van omstandighede wat tot die dood van ‘n onskuldige man gelei het.
- Sapa