Seun kritiek ná speletjie by koshuis handuit ruk
2013-02-01 11:07
Kaapstad – 'n Skoolseun is in die intensiewe sorgeenheid nadat 'n mede-leerder hom glo met 'n skoen in 'n kussingsloop geslaan het, is Vrydag berig.
Andrew Searle (14), 'n gr.8-leerder aan die Hoërskool York, word sedert Dinsdagaand in die George-hospitaal behandel.
Sy pa, Sean Searle, het gesê 'n groep seuns het na bewering by die skool se koshuis, waar sy seun geslaap het, ingegaan en hom een keer op die been en aan die kant van sy kop geslaan.
"'n Uur later het hy erge hoofpyn ervaar en sy vriende gevra om die koshuisvader te roep."
Die tiener is na 'n nabygeleë hospitaal geneem, waar 'n neurochirurg vasgestel het dat hy bloeding op die brein het. Die bloed is gedreineer en die tiener is onder verdowing geplaas.
Bronagh Casey, woordvoerder van Donald Grant, provinsiale minister van onderwys, het aan die koerant gesê 'n "rowwe speletjie" tussen gr.8, -9 en -10-leerders het handuit geruk.
Sommige van die leerders is uit die koshuis geskors.
Casey het gesê die beheerliggaam sal die saak verder hanteer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA