Seun geskiet oor raserige motorfiets
2011-10-18 07:01
Kroonstad – ’n Laerskoolseun van ’n gesogte Engelse skool hier sit met 18 steke in sy agterkop nadat hy op ’n vierwielmotorfiets geskiet is deur ’n man wat na bewering erg geïrriteerd geraak het met dié motorfiets se dreuning op ’n stil Saterdagmiddag.
Hoewel Hoosein Salet (41) die 12-jarige Faizan Ahmed in die spogwoonbuurt Wilgenhof na bewering met ’n BB-geweer (“BB-gun”) en nie ’n vuurwapen nie geskiet het, kan die huidige aanklag van ernstige aanranding teen hom na poging tot moord verander word, het Maselela Langa, woordvoerder van die polisie op Kroonstad, Maandag gesê.
Langa sê ’n BB-geweer val nie soos ander swaarkaliber-vuurwapens in die kategorie van moordwapens nie, maar die wyse waarop Salet na die kind gemik en toe geskiet het, kan op poging tot moord neerkom.
“Die kind is immers in die kop (’n sensitiewe en gevaarlike gedeelte) geskiet.”
Die hof sal hieroor beslis, het Langa gesê.
Ahmed, ’n gr.6-leerling aan die Kroonstad Academy, sterk tuis aan.
’n Groot sny is in die hospitaal uitgevoer om die koeël te verwyder.
Dié skietery Saterdagmiddag in Wrightstraat het ’n einde gebring aan ’n jolige klaspartytjie.
Ahmed is na sy vriend Salmaan se ouerhuis vir dié byeenkoms. Die kinders het daar geswem, geëet en gespeel.
Volgens Ahmed het hy en Salmaan later die middag op dié se vierwielmotorfiets in die woonbuurt gery.
“Toe ons begin ry het, was die man (Salet) nie in sy erf nie. Kort daarna het hy uit sy huis gekom om hout te saag,” vertel Ahmed.
“Ons het in ’n stadium by hom stilgehou en hom gegroet.”
Kort daarna het Ahmed, wat ’n passasier op die motorfiets was, ’n geluid en ’n erge brandpyn op sy agterkop gevoel. “Ek het aan my kop gevat en toe ek na my hand kyk, sien ek dit is vol bloed.”
Salmaan se oom het Ahmed na die Netcare-Kroon-hospitaal gebring.
Ahmed is vyf uur later ná ’n klein operasie ontslaan.
“Dit is steeds seer,” het Ahmed Maandag aan Volksblad in sy ouerhuis in Bothastraat gesê.
Shahabaz Ahmed, die beseerde se pa, is uiters geskok.
“Dit is waar dat die motorfiets op en af in die strate geraas kan veroorsaak, maar om te skiet, is nie reg nie. Salet ken my – hoekom het hy nie gebel en gekla nie? Hy het sommer net geskiet.”
Mnr. Ahmed, ’n sakeman, het Salet Sondagmiddag gaan konfronteer. Salet is kort daarna in hegtenis geneem.
Mnr. Ahmed sê toe Salet sien die polisie is op sy voorstoep, het hy verskoning begin vra.
Hoewel mnr. Ahmed die verskoning oplaas aanvaar het, is die klag nie laat vaar nie.
Langa sê Salet het Sondagmiddag R1 000-borgtog by die polisiekantoor betaal. Hy het gisteroggend in die Kroonstadse landdroshof verskyn.
’n Vriend van mnr. Ahmed sê die gemeenskap is geskok dat ’n “gemeenskapslid” só iets aan “een van sy eie mense” gedoen het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad