Seun ernstig beseer in bootbotsing
2011-10-09 11:00
Johannesburg – ’n Vyftienjarige seun wat in Desember aan die nasionale kaalvoetwaterski-kampioenskap sou deelneem, is in ’n ernstige toestand in die hospitaal ná ’n bootongeluk op die Vaalrivier.
Christiaan Schlebusch se milt moes verwyder word nadat dit gebars het. Hy het snywonde aan sy onderlyf, sy regterpols is gebreek en hy het ’n skouerbesering opgedoen.
Hy en sy pa, Louis, en twee ander mense was Vrydag omstreeks 17:00 in hul skiboot op die rivier naby Christiana toe ’n ander boot teen ’n hoë spoed bo-op hulle beland het.
“Ons het klaar geski en die boot het in die middel van die rivier stilgestaan,” het Schlebusch sr. Saterdag vertel.
“ ’n Groter boot het aangekom en heen en weer oor die rivier beweeg. Die volgende oomblik het die boot kant toe geswaai en bo-oor ons gery.”
Christiaan, ’n gr.8-leerling aan die Hoërskool Aliwal-Noord, is deur die boot se draaiende skroef getref.
Volgens Schlebusch is die rivier by die ongelukstoneel ongeveer 200 m wyd.
Schlebusch het met Christiaan na die hospitaal in Christiana gejaag. Van daar is hy per ambulans na ’n hospitaal in Kimberley geneem en Saterdag is hy in ’n Bloemfonteinse hospitaal opgeneem.
“As ons 20 minute later by die hospitaal in Kimberley aangekom het, het ons begrafnis gehou. My kind is so stukkend,” het Schlebusch gesê.
Hy weet niks van die mense in die ander boot nie. “Ek het net rondgeskarrel om my kind.”
Christiaan was Saterdag onder sterk verdowing in die waakeenheid. Verdere operasies gaan waarskynlik nodig wees.
Sers. Karen Tredoux, ’n polisiewoordvoerder in Noordwes, kon slegs bevestig dat ’n saak van “roekelose en nalatige bestuur” ondersoek word teen die persoon wat in beheer was van die ander boot.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport