Seun by skool met mes gesteek
2009-10-14 14:32
Durban- ‘n Matriekleerling is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n mede-leerling met ‘n mes in die rug gesteek het.
Volgens supt. Henry Budhram, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, is die polisie Dinsdag van die voorval in kennis gestel.
“Ons het verneem dat ‘n graad 11-leerling met ‘n mes aangeval is by die hoërskool Woodlands in Northdale,” het Budhram gesê.
Na bewering het die slagoffer, Krishen Govender, en die verdagte ‘n argument op die skoolgronde gehad toe die voorval plaasgevind het.
Die verdagte staar nou ‘n klagte van poging tot moord in die gesig.
“Die slagoffer is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal,” het Budhram gesê.
–Sapa