Seun (5) skok hom dood by springkasteel
2012-10-22 10:23
Johannesburg – 'n Vyfjarige seun van Pretoria is by die elektriese motor van ’n springkasteel doodgeskok, het Beeld Maandag berig.
Die voorval het by Stonehaven-on-Vaal naby Vanderbijlpark plaasgevind.
Ruan Schlebusch en sy sewejarige niggie Cheverne het mekaar om die springkasteel rondgejaag toe hy in 'n roosbedding by die springkasteel geval het.
Toe Ruan hom wou optrek, het hy sy hand op die handvatsel van die springkasteel se motor gesit en geskok.
Sy niggie het hom probeer help, maar sy is ook geskok. Die motor het toe omgeval en op die kinders se bene beland.
Ruan se sussie het toe 'n familielid gaan roep, waarna Cheverne onder die motor uitgehaal is.
’n Dokter wat by Stonehaven was, het noodhulp op Ruan toegepas en paramedici het later oorgeneem. Hy is egter op die toneel dood verklaar.
Cheverne, wat brandwonde aan haar bene en tong opgedoen het, is ook op die toneel behandel.
“Dit is ’n baie tragiese voorval, ’n eerste in 18 jaar,” het Rex Anderson, eienaar van Stonehaven-on-Vaal, gesê. Hy het gesê almal by die oord is baie diep geraak.
“Dit is ’n tragedie. Ons meegevoel gaan uit na die familie. Dit is ’n plek vir families dié. So iets moet net nie gebeur nie... dit is tragies.”
Die polisie het gesê 'n geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA