Seun (18) sterf ná slanery by skool
2011-09-15 08:40
Daniëlskuil – Twee leerlinge van die Senior Sekondêre Skool Kuilsville hier verskyn op 21 September in die Postmasburg-landdroshof op ’n aanklag van moord.
Die broers Donovan en Devern Batjie, albei 18 jaar, het na bewering vir Edison van Staden (18) verlede week aangerand.
Van Staden is Woensdag in die Kimberley-hospitaal aan sy beserings dood.
Die klag teen die twee broers is nou van poging tot moord na moord verander.
Sydney Stander, woordvoerder vir die onderwysdepartement, het gesê die twee broers word dadelik geskors.
“Ons moet nou wag dat die reg sy gang gaan.”
Volksblad het Maandag berig dat twee noodoperasies op Edison uitgevoer moes word nadat hy na bewering buite ’n klaskamer aangerand is.
’n Familielid het toe gesê Edison het ernstige kopbeserings opgedoen.
Die beweerde aanranding het glo ten tyde van ’n hewige woordewisseling plaasgevind buite ’n klaskamer, het kapt. Tony Modise van die polisie toe gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad