Seun (17) kry 25 jaar ná moord
2011-09-28 07:03
Vosburg – ’n Minderjarige seun is 25 jaar lank tronk toe gestuur nadat hy ’n bejaarde inwoner van dié dorp vermoor het.
Die moord op Giel du Toit (69) in Februarie vanjaar het dié rustige Karoo-dorpie geruk. Du Toit was ’n gebore en getoë Vosburger wat sy lewe lank hier gewoon het.
Die seun (17) is in die streekhof op De Aar tot 35 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan hy 25 jaar moet uitdien. Omdat hy minderjarig is, sal hy die eerste deel van sy vonnis in ’n korrektiewe sentrum vir jeugdiges deurbring.
Hy was 16 toe hy die moord gepleeg het. Sy naam mag nie bekend gemaak word nie, omdat hy minderjarig is.
Hy is kort ná die moord danksy knap speurwerk deur die speurdiens van Carnarvon, onder leiding van kapt. Piet Loubser, vasgetrek.
Hy is weens die moord 15 jaar tronkstraf opgelê. Op aanklagte van huisbraak met die doel om te steel en diefstal is hy onderskeidelik drie en vier jaar gevangenisstraf opgelê.
Op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede is hy onderskeidelik vier en agt jaar gevangenisstraf opgelê. Nog ’n jaar gevangenisstraf is op ’n aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen opgelê.
Die polisie is op Saterdag 5 Februarie omstreeks 09:00 ingelig oor sleutels wat in Van Rensburgstraat gelê het.
Terwyl dit ondersoek is, het ’n inwoner aangemeld dat ’n venster in Du Toit se huis gebreek is.
Die polisie is daarheen, waar Du Toit se lyk in ’n poel bloed gekry is. Hy het verskeie meswonde gehad. Hy is vroeër die oggend vermoor.
Speurders is van Carnarvon na Vosburg gestuur om met die ondersoek te help.
Verskeie gesteelde artikels is by die seun gekry.
Du Toit het op sy aanvaller geskiet voordat hy met ’n mes doodgesteek is. Vier gate is in die muur van sy huis gekry.
Dit was die vierde keer wat by sy huis ingebreek is.
Sy dogter, Marina Pienaar, het aan Volksblad gesê ná die vorige inbrake het sy kinders ’n alarm in die huis laat aanbring.
Swaar weer die oggend van die moord het veroorsaak dat die Telkom-lyn af was en die alarm het daarom nie afgegaan nie.
Du Toit was die elektrisiën op die dorp en bekend aan alle inwoners.
Hy was ook by die Meerkat-satellietprojek by Carnarvon betrokke.
Die direkteur van openbare vervolging het Loubser lof toegeswaai vir sy volledige en netjiese ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad