Seun (11) probeer glo vierjarige verkrag
2010-02-17 19:30
Johannesburg – ‘n Elfjarige seun sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn nadat hy glo ‘n vierjarige meisie in Soweto, Johannesburg, probeer verkrag het, het die polisie Woensdag gesê.
Die meisie het buite by haar huis in Mofolo in die tuin gespeel toe die seun haar Dinsdag na sy huis geroep het, het insp. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, gesê.
“Toe haar ma haar later geroep het, het sy uitgehardloop met haar klere en onderklere in haar hand,” het Makhubela gesê.
Die meisie het glo aan haar ma gesê dat die seun probeer het om haar te penetreer.
‘n Dokter wat haar ondersoek het, het geen tekens van penetrasie gevind nie.
“’n Saak van verkragting is oopgemaak, maar ek dink dit sal hanteer word as onsedelike aanranding,” het Makhubela gesê.
Die seun is nie in hegtenis geneem nie , maar onder sy ouers se toesig geplaas.
Hy sal na verwagting Donderdag saam met sy ouers in die Protea-landdroshof verskyn.
Die seun sal ook deur ‘n sosiale werker ondersoek word.
- Sapa