Seun (10) red kleuter wat verdrink
2009-10-12 22:44
Johannesburg - ‘n Jong seun het sy tweejarige broer se lewe gered nadat hy hom uit ‘n swembad gehaal het en mond-tot-mond-asemhaling toegepas het.
Cochise Jones (10) het laat Donderdagmiddag agtergekom dat sy broer Ayanda (2) nêrens te vinde is nie. Hy en die gesin se huiswerker het na die kleuter begin soek.
Jones het ‘n voorwerp in die swembad sien dryf en besef dit is sy broer. Hy het ingespring en Ayanda uit die water gehaal.
“My pa het vir ons ‘n noodhulp boek gekoop en ek het gedoen wat ek gesien het die mense in die prentjies doen,” het Cochise gesê.
Die huiswerker het die twee kinders se pa gebel. Toe Andrew Jones op die toneel opdaag was Ayanda bewusteloos en sy oë omgedop.
Ayanda is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem waar hy behandel is.
Dokters het Cochise geloof vir sy dapperheid en gesê dat die noodhulp wat hy op sy broer toegepas het die kleuter se lewe gered het.
“Daar is geen twyfel dat as Cochise nie sy broer uit die water gehaal het en noodhulp toegepas het nie, Ayanda nie sou oorleef het nie. Hierdie kind is ‘n held. Dit is een ding om die kleuter uit die water te help maar om op daardie oomblik presies te weet wat om te doen, is ongewoon,” het ‘n dokter gesê.
Ayanda het intussen ten volle herstel.
- Sapa