Sesde verdagte vas vir moord op polisieman
2012-02-07 15:54
Johannesburg – ‘n Sesde man is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n polisieman in ‘n sjebien in Soweto die afgelope naweek, het die Johannesburgse metropolisie Dinsdag gesê.
Die polisieman was nie aan diens ten tyde van die voorval nie.
“’n Man in sy vroeë dertigs is by ‘n huis in Bloemfontein in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n metrobeampte,” het hoofsupt. Wayne Minnaar gesê.
Volgens Minnaar word dié verdagte daarvan verdink dat hy die een was wat die sneller getrek het.
“Die inghegtenisname is gemaak deur die Suid-Afrikaanse polisiedepartement en die Johannesburgse metropolisiedepartement nadat hulle ‘n wenk ontvang het.
“Die verdagte is gevang terwyl hy in een van die kamers in die huis, wat aan ‘n familielid behoort, geslaap het.”
Hy word by die Protea-polisiestasie aangehou.
Vyf mense is Sondag in hegtenis geneem en die polisie is steeds op soek na een man.
Die beampte is geskiet toe hy probeer het om ‘n geveg tussen die mans by die sjebien op te breek.
Hulle het glo oor ‘n vrou baklei.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA