Sesde baba sterf by Jhb-hospitaal
2010-05-19 12:33
Johannesburg - 'n Sesde baba is dood, vermoedelik aan diarree, by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, het SABC berig.
Die baba was klaarblyklik die eerste van ses wat verlede Saterdag diarree by die hospitaal opgedoen het.
Vyf ander pasgebore babas is Dinsdagoggend dood.
Dit is nog nie bekend presies waaraan die kinders omgekom het nie.
Die Gautengse departement van gesondheid het Dinsdag gesê die departement sal ondersoek instel na die oorsaak van die sterftes.
Simon Zwane, departementele woordvoerder, kon nie sê watter simptome, buiten diarree en ontwatering, die babas getoon het nie.
Zwane kon ook nie die dood van die sesde baba bevestig nie.
Qedanie Mahlangu, Gautengse LUR vir gesondheid, sal na verwagting Woensdagmiddag die media oor die sterftes inlig.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.