Ses vas vir kaping van vragmotor vol sigarette
2011-12-29 22:00
Johannesburg – Ses mense is Donderdag in Kempton Park in hegtenis geneem toe die Gautengse polisie se teenkapingseenheid op 'n vragmotor met gesteelde sigarette ter waarde van R17 miljoen beslag gelê het, het Busaphi Nxumalo, 'n woordvoerder vir die polisie, gesê.
"Die vragmotor is in Sasolburg gekaap en was eintlik op pad na Kaapstad," het sy gesê.
Lede van die teenkapingseenheid het dit egter in Kempton Park opgespoor.
Die gesteelde sigarette behoort aan die maatskappy British American Tobacco, het sy bygevoeg.
Die ses mense wat in hegtenis geneem is sal na verwagting Vrydag in die Kempton Park-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA