Ses vas ná jaagtog in Midrand
2011-09-29 17:30
Johannesburg – ‘n Hoëspoed-jaagtog het Donderdag tot die inhegtenisneming van ses mans gelei wat vermoedelik ‘n rooftog in Midrand beplan het, het die polisie in Gauteng gesê.
Die polisie het ‘n Mercedes Benz-motor en ‘n Mazda-bakkie agtervolg waarin die ses mans gereis het, het lt. kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, gesê.
“Toe die verdagtes besef het hulle word agtervolg, het hulle weggejaag. Dit het tot die jaagtog gelei.”
Die bestuurder van die Mercedes Benz het in ‘n oop veld ingery. Drie mans het uitgespring en probeer weghardloop, het Dlamini gesê.
“Die bestuurder het skote op die polisie afgevuur. Die polisie het teruggeskiet. Die bestuurder is gewond en saam met twee van sy medepligtiges in hegtenis geneem.”
Die bestuurder word onder polisiebewaking in die hospitaal behandel.
Die drie verdagtes in die bakkie is ook in hegtenis geneem nadat hulle hul voertuig verlaat het en probeer het om weg te hardloop.
Die polisie het twee pistole en ‘n rewolwer teruggevind. Die Mercedes Benz is vroeër vandeesmaand in Noordwes gesteel.
Die mans, tussen die ouderdomme van 31 en 51, is aangekla van sameswering tot roof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig.
“Die verdagtes is nog nie met enige ander misdade verbind nie,” het Dlamini gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA