Ses vas ná hoëspoed-jaagtog op N2
2012-01-15 15:53
Oos-Kaap – Ses mans wat 'n rooftog in die Oos-Kaap beplan het, is in Port Shepstone in hegtenis geneem, het die polisie in KwaZulu-Natal Sondag gesê.
Kapt. Thulani Zwane het gesê die ses mans is ná 'n hoëspoed-jaagtog en skietery met die polisie Saterdag op die N2 in hegtenis geneem.
Die polisie het inligting ontvang oor ses mans in 'n VW Jetta onwettige vuurwapens in hul besit het. Die polisie het toe die motor op die N2 naby Port Shepstone gesien, maar toe hulle die motor wou aftrek, het die bestuurder weggery.
"Toe die voertuig uiteindelik verder in die pad tot stilstand gekom het, het twee van die verdagtes op die polisie losgebrand en te voet gevlug," het Zwane gesê.
"Die polisie het teruggevuur en die verdagtes het in nabygeleë bosse verdwyn. Vier ander insittendes van die voertuig het hulle aan die polisie oorgegee en is in hegtenis geneem. Twee ongelisensieerde vuurwapens is in hul besit gevind."
Die honde-eenheid het die ander twee, wat in die bosse gevlug het, opgespoor. Albei is in hul bene gewond.
"Toe hulle deur die polisie ondervra is, het hulle erken dat hulle na die Oos-Kaap onderweg was om 'n rooftog uit te voer," het Zwane gesê.
Die mans staan tereg op aanklagte van die besit van 'n vermoedelik gesteelde vuurwapen, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Zwane het gesê die mans sal Maandag in die Port Shepstone-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA