Ses sterf in ongeluk naby Margate
2011-12-23 15:15
Durban – Ses mense is dood en twee ander beseer nadat die voertuig waarin hulle gery het teen 'n tenker op die R61 naby Margate in KwaZulu-Natal gebots het, het paramedici Vrydag gesê.
"Ses volwassenes het ernstige beserings opgedoen en het voor paramedici se aankoms op die toneel gesterf," het Jeff Wicks, woordvoerder van Netcare, gesê.
'n Man en vrou is versigtig uit die verwronge wrak van die motor bevry. Die man het kritieke beserings opgedoen, het Wicks gesê.
Wicks het gesê aanduidings toon dat die motor en die tenker in teenoorgestelde rigtings gery het toe hulle gebots het.
Die motor het gerol en teen 'n versperring langs die pad tot stilstand gekom.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA