Ses sterf in Durban-vloede
2011-11-28 13:10
Durban – Ses mense is dood ná 'n storm in die Durban-gebied talle huise verwoes het, het die departement van samewerkende regering gesê.
Die gure weersomstandighede het vloede en wydverspreide skade veroorsaak.
Sondagaand se sterftes bring die aantal mense wat in vloede dood is, op 11 te staan. Verlede week is vyf mense in die provinsie weens vloede dood.
Mthatheni Mabaso, woordvoerder van die departement van samewerkende regering, het gesê die ses oorledenes is van Umlazi en Clermont, suid en wes van die stad.
"Die mense is dood toe hul huise meegegee het. Daar is ook aan ons gesê sowat 100 huise in Isipingo is beskadig en oorstroom."
Nomusa Dube, provinsiale minister van die departement van samewerkende regering, sal Maandag van die gebiede, wat deur die vloede geraak is, besoek.
In Pietermaritzburg is verskeie gebiede Sondagaand deur swaar reën beskadig.
Paulpietersburg, Gingindlovu, Nkandla en Eshowe is die ergste geraak deur verlede week se vloede. Drie mense het in Paulpietersburg en twee in die eThekwini-munisipaliteit gesterf.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA