Ses polisiebeamptes vir misdade vasgetrek
2011-11-21 21:05
Johannesburg – Ten minste ses polisiebeamptes is die afgelope week vir verskeie misdade, insluitend moord, verkragting, diefstal en korrupsie, in hegtenis geneem.
In een saak is ‘n amptelike voertuig tydens ‘n rooftog gebruik.
In ‘n ander saak word ‘n polisiebeampte van verkragting aangekla nadat hy ‘n vrou by ‘n slagoffer-hulpsentrum verkrag het.
Polisiebeampte Isaac Rammala (45) is op borgtog van R1 500 vrygelaat nadat hy op ‘n aanklag van verkragting in die Seshego-landroshof verskyn het.
Hy word daarvan beskuldig dat hy ‘n 21-jarige vrou by die polisiestasie in Seshego se slagoffer-hulpsentrum verkrag het.
Sy saak is tot 24 Januarie uitgestel.
Drie ander polisiebeamptes word van korrupsie aangekla nadat hulle R20 000 in omkoopgeld van ‘n vermeende dwelmsmokkelaar aanvaar het.
Volgens luitenant-kolonel Tshisikhawe Ndou het polisiebeamptes Johannes Moja (46), Patrick Matlala (32) en Mkhonto (29) Vrydag in die hof verskyn.
Hul saak is tot Woensdag uitgestel.
Die drie polisiebeamptes het tydens ‘n klopjag R53 000 in ‘n vermeende dwelmsmokkelaar se huis gevind.
Die verdagte het die polisiebeamptes R500 aangebied om stil te bly.
Hulle het egter op R20 000 aangedring.
Die vermeende dwelmsmokkelaar het ingestem, maar hulle die volgende dag by die polisiekantoor gaan aangee.
Verlede week is ‘n geskorsde polisiebeampte vir die moord op Chanelle Henning (26) in Faerie Glen in hegtenis geneem.
Polisiebeampte Mongwe van Norkem Park in Gauteng is in hegtenis geneem nadat hy en vier ander verdagtes ‘n huis in Sandton beroof het.
‘n Amptelike voertuig is tydens die rooftog gebruik.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA