Ses perde lewend verband in wraakaanval
2012-08-27 09:43
Johannesburg – Ses perde is die afgelope naweek in hul stalle in Muldersdrif aan die Wes-Rand aan die brand gesteek, het ‘n koerant berig.
Beeld berig die voorval is vermoedelik ‘n wraakaanval wat met ‘n arbeidsgeskil verband hou.
Willie (51) en Petro (49) Basson, wat agt perde op hul kleinhoewe aangehou het, is Saterdagoggend vroeg van ‘n brand by die perdestalle in kennis gestel.
Wille het gaan ondersoek instel en afgekom op die erg verkoolde karkasse van die spog-hingste Spirit en Sea Biscuit en die merries Rainbow, Fasset, Soekie en haar merrievul, Grace.
Net twee perde het die brand oorleef.
“Ons stalkneg het vanoggend vir my gesê dit lyk vir hom of iemand aan albei kante van die stalle vuurgemaak het en sodoende gekeer het dat die perde uit hul stalle kon kom,” het ‘n geskokte Willie aan verslaggewers gesê.
Hy sê hy is verpletter, aangesien sy perde soos familielede was.
Vyf van die egpaar se sewe werkers het onlangs te midde van ’n arbeidsdispuut die hoewe verlaat. Net twee het oorgebly.
Die polisie ondersoek die saak en Boykie Snyman, ’n ondersoeker by die brandweer, sê ‘n verslag oor die oorsaak van die brand sal later die week uitgereik word.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA