Ses kinders beseer in fratsongeluk
2011-03-02 23:00
Durban – Ses laerskoolleerlinge is deur ‘n motor raakgery in ‘n fratsongeluk in Umgababa buite Durban, het paramedici in KwaZulu-Natal gesê.
“Een van die onderwysers het ‘n kind gevra om haar motorvenster toe te maak. Die handrem was nie opgetrek nie en die motor het agteruit begin ry,” het Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, gesê.
Na bewering het die motor glo oor sowat ses kinders gery.
Die voorval het kort voor 13:00 by die Laerskool Amagcino plaasgevind.
Een van die slagoffers is per helikopter na die Albert Luthuli-hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling. Die ander sterk steeds in die Prince Mshiyeni-hospitaal aan.
Volgens Botha is drie van die kinders in ‘n kritieke toestand.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA