Ses in Pta reis nie na areas, kry tog malaria
2012-02-03 09:04
Pretoria – Malaria is die afgelope vakansie by minstens ses Pretorianers gediagnoseer wat nie malariagebiede besoek het nie.
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het drie mense van Soshanguve, noord van Pretoria, en drie van ’n private woonkompleks in Pretoriuspark in die ooste van Pretoria die siekte opgedoen.
Nios het die gebiede besoek om te kyk of muskiete wat malaria kan oordra, daar broei, maar kon niks kry nie.
Volgens dr. Lucille Blumberg van Nios het die ses, almal volwassenes, in Desember siek geword.
Nios meen dit is waarskynlik veroorsaak deur muskiete wat deur vakansiegangers in reistasse of voertuie Pretoria toe gebring is.
Die moontlikheid dat malariamuskiete plaaslik kan uitbroei, kan egter nie uitgesluit word nie.
“Ons sien gewoonlik sowat een tot ses ingevoerde malariagevalle per jaar. Dit gebeur baie min, maar daar is dalk ook ’n paar wat nie gediagnoseer word nie omdat die siekte nie vermoed word nie.”
Volgens Nios is die malaria-seisoen in Afrika tussen September en Mei, wat beteken heelwat vakansiegangers is die afgelope Desembervakansie blootgestel.
Blumberg het gesê mense moet veral versigtig wees om die simptome nie verkeerdelik as griep te diagnoseer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld