Ses ernstig beseer in ongeluk in Oos-VS
2011-08-29 09:06
Bethlehem – Ses mense is Vrydagaand in ’n ongeluk op die R26 tussen Bethlehem en Fouriesburg beseer.
Die mense is na hospitale op Bethlehem gebring nadat ’n Golf, ’n BMW en ’n petrol-tenkwa in ’n botsing betrokke was.
Netcare 911 se paramedici het op die toneel aangekom nadat mense in verbygaande motors gesien het hoe die twee voertuie en die petrol-tenkwa van die pad af gly. Die ses beseerdes het langs die pad gelê.
Die paramedici het hulle die nodige behandeling gegee om hulle te stabiliseer, waarna die beseerdes na hospitale in die omgewing gehaas is om verdere behandeling te kry.
Die verkeersvloei op die R26 was erg deur die ongeluk beïnvloed.
Volksblad het Sondag ’n navrae aan Netcare gerig, maar personeel van Netcare wou nie die name van die beseerdes bekend maak nie.
Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder van die Oos-Vrystaat: Phuthaditjhaba, het gesê hy is nie bewus van enige ongelukke wat Vrydag op die R26 plaasgevind het nie.
Hy het egter gesê in ongelukke waarin niemand dood is nie, word ’n saak van nalatige bestuur gewoonlik ondersoek.
Volgens Jeffrey Wicks, mediawoordvoerder vir Netcare, is die oorsaak van die ongeluk steeds onbekend en word dit deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad