Ses beseer in ontploffing by fabriek
2011-11-06 22:45
Johannesburg – Ses fabriekwerkers is Sondagaand beseer in ‘n ontploffing by ‘n fabriek in Springs aan die Oos-Rand, het paramedici gesê.
“Inligting dui daarop dat ‘n drukkoker ontplof het waar die mans gewerk het,” het Jeff Wicks, woordvoerder van Netcare 911, gesê.
“Die ontploffing het ‘n stuk van die drukkoker deur die lug laat trek. Dit het een van die werkers in die gesig getref.”
Paramedici het die man op die toneel in ‘n kritieke toestand aangetref.
Hy het ernstige beserings aan sy gesig en brandwonde aan sy rug opgedoen, het Wicks gesê.
Sy medewerkers het minder ernstige brandwonde opgedoen.
Al die beseerdes is op die toneel gestabiliseer voor hulle na nabygeleë hospitale geneem is vir behandeling.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA