Ses beseer in Witbank-ongeluk
2010-09-01 11:27
Johannesburg – Ses persone is Woensdag beseer toe drie voertuie gebots het op die N12-hoofweg naby Witbank, het paramedici gesê.
“Na bewering het ‘n taxi, vragmotor en bakkie omstreeks 07:00 met mekaar gebots op die N12 naby die Kendal-afrit in die Witbank-area,” het Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, gesê.
“Met paramedici se aankoms op die toneel het die voertuie se wrakke die hele pad vol gelê. Ses persone het ernstige beserings opgedoen en agt het slegs ligte beserings gehad,” het Botha gesê.
Die ses persone wat ernstig beseer is, is na die Witbank-hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA