Serwiese voortvlugtige se uitleweringsaak geskrap
2012-02-06 14:00
Kaapstad – Die uitleweringsaak van die vermeende Serwiese voortvlugtige, Dobrosjav Gavric is van die hofrol geskrap, het Die Burger Maandag berig.
Die hof het beslis dat sy saak verwyder moet word, aangesien Gavric reeds vir vlugtelingstatus aansoek gedoen het en ook 'n tydelike werkpermit het.
Volgens die immigrasiewet is in hegtenisneming of aanhouding tydens die tydperk onwettig.
Gavric word in Serwië gesoek om 35 jaar tronkstraf vir drie moorde uit te dien.
Hy is sedert 2007 in Suid-Afrika nadat hy uit Serwië gevlug het voordat hy daar in ’n moordsaak gevonnis is. Hy word in Serwië gesoek in verband met die moord op ’n oorlogsmisdadiger, Zeljko Raznatovic, en twee ander mense. Hy is in sy afwesigheid tot die 35 jaar tronkstraf gevonnis.
Gavric het die voertuig bestuur waarin Cyril Beeka (49), ’n bekende figuur in die plaaslike onderwêreld, verlede jaar geskiet is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger