Sentrum ‘hou nie behoorlik boek’ van asemtoetsers
2011-06-01 09:06
Kaapstad - Die munisipale alkoholsentrum in Athlone het nie behoorlik boek gehou van Dräger-asemtoetsers wat daar gebruik is nie.
Dié erkenning is Dinsdag hier in die Wes-Kaapse hooggeregshof deur die eertydse hoof van die alkoholsentrum, Igshaan Petersen, gemaak.
Petersen, ’n inspekteur in die stad se verkeersdepartement, het in kruisondervraging getuig daar is nie boek gehou van enige aanpassings, kalibrasies, instandhouding, herstelwerk of dienste aan die Dräger-asemtoetsers in hul besit nie.
Hy was die bestuurder van die alkoholsentrum sedert die opening daarvan in 2009 tot in Mei 2010. Hy is tans hoof van die toetssentrum in Milnerton. Petersen het getuig daar was ’n “voorvalleboek” by die sentrum waarin alle voorvalle aangeteken is.
Adv. William King, vir die beskuldigde in die toetssaak, Clifford Hendricks (27), het dit aan Petersen gestel een van die Dräger-asemtoetsers wat daar gebruik is, is 15 keer voor Januarie 2010 vir kalibrering gestuur.
Petersen het geantwoord dit is nuus vir hom. Hy weet net van twee gevalle op 4 April 2010 waar ’n Dräger-apparaat nie korrek gewerk het nie. Die gevalle is in die “voorvalleboek” aangeteken.
Die toetssaak oor die betroubaarheid van die Dräger-asemtoetser het verlede Maandag in die hooggeregshof begin.
Regter Nathan Erasmus sal moet bepaal of alkoholvlakke wat deur die Dräger-toestel gemeet is as akkuraat beskou kan word. Die uitspraak sal bindend wees in laer howe. Hendricks het skuld ontken op ’n aanklag van bestuur onder die invloed van drank nadat hy verlede jaar in hegtenis geneem is. Die saak duur voort.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger