Sensuur op Wikipedia ontstel ANC
2011-11-23 22:01
Kaapstad – Die ANC is van mening dat die “sensuur” op die Wikipedia-inskrywing oor die ANC "blatante vandalisme" is.
Die regerende party het die sensuur terselfdertyd as "onbeskaafd" beskryf.
Sekere frases op die webblad wat inligting bied oor vermeende korrupsie in die party was vir 'n ruk lank uitgeblok.
Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, het gesê dat die veranderinge wat gemaak is nie ooreenstem met ‘n beskaafde samelewing nie.
“Hoe bevorder dit ‘n saak om met inligting te peuter?” het hy gevra.
“Deur met inligting te peuter, word die nut van inligtingsverskaffers ondermyn.”
Wikipedia laat enige gebruiker toe om veranderinge aan hul blaaie te bring.
Die veranderinge is aangebring in protes teen die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, wat Maandag in die Nasionale Vergadering goedgekeur is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA