Sensus wys dat SA verbeter, meen Zuma
2012-10-30 14:16
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma sê dit is duidelik uit die 2011-Sensusopname dat die lewens van gewone Suid-Afrikaners die afgelope 10 jaar verbeter het, het RSG berig.
Hy het in Pretoria gepraat waar die resultate van die opname aan hom oorhandig is.
Volgens die opname deur Statistieke Suid-Afrika het Suid-Afrika nou 51,8 miljoen inwoners. Dit is sowat 7 miljoen meer mense as wat in die vorige sensus, in 2001, getel is.
Sapa berig die dokument wys daar was op 9 Oktober verlede jaar – die dag van die sensus – om middernag 51 770 560 mense in die land, in vergelyking met 44 819 778 wat tien jaar gelede getel is.
Volgens die sensus is daar ook meer vroue as mans. Sowat 25,2 miljoen van die bevolking is manlik en 26,6 miljoen is vroulik.
Die uitslae toon ook dat Gauteng – die kleinste provinsie in die land – die mees bevolkte provinsie, met 12,3 miljoen mense, is.
In teenstelling het Suid-Afrika se grootste provinsie – die Noord-Kaap – die kleinste bevolking, met 1,1 miljoen mense.
In terme van ras het byna agt uit tien mense hulself as swart beskryf.
Volg Nuus24 op Twitter