Sensus wys Wes-Kaap wérk, sê Zille
2012-11-12 16:19
Johannesburg – Die jongste sensusdata wys dat die Wes-Kaapse regering hard werk om uitstekende dienste te lewer, het dié provinsie se premier, Helen Zille, Maandag gesê.
"Ek is baie tevrede met die data, wat toon dat die Wes-Kaap 'n toppresteerder is in die voorsiening van basiese dienste," het Zille in 'n verklaring gesê.
"Die Wes-Kaap het ook die laagste werkloosheidsyfer in die land en die hoogste aantal mense met toegang tot onderwys."
Sensus 2011 toon onder meer dat 99,1% van inwoners van die Wes-Kaap toegang het tot water wat met pype voorsien is, terwyl 91,1% toegang het tot vullisverwyderingsdienste, en 93,4% tot elektrisiteit.
Die Wes-Kaap se bevolking het met 29% gegroei, het die sensus ook getoon.
"[Dit] beteken dat ons meer hulpbronne nodig sal hê en dat ons meer klem sal moet lê op die opgradering van informele nedersettings om te verseker dat soveel mense as moontlik ordentlike lewensomstandighede het," het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA