Sensus-veldwerker in Oos-Kaap aangeval
2011-10-19 16:30
Oos-Kaap – 'n Man in Oos-Londen is in hegtenis geneem en twee ander is op vrye voet nadat hulle 'n sensus-veldwerker wou verkrag, berig Dispatch Online.
Die vrou het Vrydagmiddag 'n sensus-vraelys, wat sy die vorige dag daar gelos het, by 'n huis in Quigney gaan haal.
Een van die inwoners het gesê hy het nie die vorm ingevul nie, omdat hy hulp benodig. Sy het gesit om hom te help, toe drie "halfkaal" mans in die kamer gekom en haar beveel het om haar klere uit te trek.
"Ek het gesê nee, maar hulle het na my toe gekom en gedreig om my te verkrag," het die vrou gesê.
Die mans het haar gegryp en haar klere uitgetrek. Sy het gehardloop toe die deur oopgemaak is vir iemand wat die mans geroep het.
Kapt. Ernest Sigobe het bevestig dat 'n saak by die polisie aanhangig gemaak is.
"'n Man is in hegtenis geneem op aanklag van poging tot verkragting. Die twee ander verdagtes is nog op vrye voet."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA