'Sensus-beamptes' beroof man in Jhb
2011-10-11 13:32
Johannesburg – Twee rowers wat hulle as sensus-opnemers voorgedoen het, het op die eerste dag van die nasionale sensus, twee mans in Kensington, Johannesburg, met 'n vuurwapen aangehou.
Die voorval het Maandag plaasgevind toe Godwin Symons en Raymond Sassu, 'n vriend, middagete gehad het by 'n huis in Kitchenerlaan.
Symons sê die deurklokkie het gelui en twee mans in groen baadjies het oor die interkom aan hom gesê hulle is sensuswerkers, het Beeld berig.
Hy het toe die hek oopgemaak.
"Een van die mans het 'n pistool op my gerig. Raymond het uit die kombuis gekom waar ons geëet het en hulle het hom beveel om op sy knieë te sit en hom vasgebind."
Die mans het 'n vuurwapen, vier Krugerrande, sowat R5 000 kontant en 'n skootrekenaar gebuit.
Die mans het weggehardloop nadat hulle 'n skoot op Symons gevuur het. Hy is nie beseer nie.
Sensus-opnmers dra geel baadjies en ID-kaartjies. Lede van die publiek kan 0800 110 248 bel om vas te stel of beamptes in hul gebied moet wees.
– Volg Nuus24 op Twitter