Senior burgers in huis oorval
2010-12-03 09:01
Parow - ’n Egpaar van Parow is helder oordag in hul huis vasgebind en beroof.
Twee mans het Maandag omstreeks 13:00 Isabel Genade (73) en haar 75-jarige man (wie se naam onbekend is) se deurklokkie in Wesselstraat-noord gelui.
Hulle was na bewering in volle polisie-uniform geklee.
Hulle is die huis ingelaat nadat hulle glo aan die egpaar gesê het hul motor is gesteel.
“Die mans het die egpaar oorval en vasgebind,” het ao. Jacques Mostert, polisiewoordvoerder in Parow, gister gesê.
Volgens inligting wat Die Burger ontvang het, is die egpaar aangerand. Mostert het dit egter ontken en gesê hulle is nie aangerand nie. “Die tannie het wel ’n hou teen die blad gekry en het ’n knop teen haar kop. Die oom is ongedeerd.”
Mostert kon nie bevestig dat die mans in polisie-uniforms geklee was nie omdat die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is. “Hulle het met die vrou se handsak, waarin haar bankkaarte en kontant was, asook juweliersware weggekom.”
Die polisie kon nie sê wie op die egpaar afgekom het nie en of hulle hulself bevry en die polisie ontbied het.
Die Genades was nie gister tuis nie. Poeier teen die voordeur se traliehek soos die polisie dit vir vingerafdrukke gefynkam het, was al getuienis van wat gebeur het.
Inwoners van Wesselstraat-noord was gister met Die Burger se besoek aan die huis onbewus van die voorval.
Inwoners het vertel dit is bedags baie stil in die buurt.
“’n Mens sien die polisie omtrent nooit hier nie,” het ’n man van hom laat hoor.
“Ek het al verdagte mense wat sommer net hier sit of rondloop, gevra wat hulle hier doen. Dan jaag ek hulle weg, want hulle hoort nie hier nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger