Semenya word ‘meneer’ in regsdokument
2010-09-15 08:45
Kaapstad. – Ná maande se drama oor die atleet Caster Semenya se geslag, is sy Dinsdag ’n “meneer” in die parlement genoem.
Lede van die portefeuljekomitee oor sport was smoorkwaad oor spel- en taalfoute in ’n resolusie wat hulle moes aanvaar – insluitend ’n verwysing na “Mr C. Semenye”.
Lede het uitgevaar teen administratiewe beamptes totdat die voorsitter, Butana Komphela, uitgewys het die dokument is deur die parlement se regsafdeling saamgestel.
Die komitee het gistermiddag ’n resolusie aanvaar om die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee te dagvaar nadat sy bestuur al twee keer versuim het om verslag te kom doen oor die hantering van die Semenya-debakel sowel as oor ’n forensiese oudit na Atletiek Suid-Afrika se geldsake.
Buiten die foutiewe titel vir Semenya en herhaalde spelfoute in haar van, was daar ’n probleem met die datum op die dokument asook ’n verkeerde vertolking van die parlementêre proses rondom ’n resolusie.
Cedric Frolick (ANC) het gesê hy was “geskok” oor die gehalte van die dokument.
“Ek is verstom oor die onvermoë om ’n waterdigte tegniese dokument saam te stel.”
Die resolusie is aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Max Sisulu, gestuur.
- Die Burger