Semenya-ondersoek begin
2009-10-10 01:39
Johannesburg - Suid-Afrika se Olimpiese Komitee het met sy ondersoek na die hantering van die Caster Semenya-saga deur dié land se baanbeamptes, begin.
‘n Woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc), Mark Etheridge, sê die verhoor het Vrydag begin en sal voortduur tot vroeg volgende week.
Geen kommentaar word verwag voor die ondersoek afgehandel is nie, het Etheridge gesê.
Die komitee ondersoek Atletiek Suid-Afrika (ASA) se rol in die saak waarin ASA-president Leonard Chuene erken het dat hy geweet het van die geslagstoetse wat op die 18-jarige atleet uitgevoer is.
Semenya het in Augustus die 800 m-finaal by die wêreldkampioenskappe in Berlyn gewen. Voor die finaal het die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) gesê hy het vir geslagstoetse gevra.
- Sapa