Semen op ET se lyk 'dalk afgevee'
2011-10-20 17:00
Ventersdorp – Semen wat in foto's op Eugene Terre'Blanche se lyk gesien is, is dalk afgevee voordat 'n lykskouing gedoen is, het 'n patoloog Donderdag gesê.
"Dalk toe dit (die lyk) in 'n lyksak vervoer is, het dit (die semen) afgevee. Ek weet regtigwaar nie," het dr. Ruweida Moorad in die rondgaande hooggeregshof op Ventersdorp gesê.
Die vog, glo semen, is gesien in foto's wat op die misdaadtoneel van sy lyk geneem is. Die vog was nie sigbaar toe Moorad haar ondersoek uitgevoer het nie.
Moorad het gesê die lyk was gevries. Sy het op 6 April, drie dae ná die moord op Terre'Blanche, 'n lykskouing gedoen.
Terre'Blanche is op 3 April verlede jaar op sy plaas aan die buitewyke van Ventersdorp, vermoedelik in 'n dispuut oor lone, vermoor.
Albei beskuldigdes het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en poging tot roof met verswarende omstandighede.
Mahlangu beweer hy het uit selfverdediging opgetree, terwyl die 16-jarige enige betrokkenheid in die moord ontken het.
Moorad het gesê daar was geen akute beserings aan Terre'Blanche se rektum nie, maar daar was liniêre skaafplekke aan die regterkant van sy skrotum.
Moorad het gesê Terre'Blanche het waarskynlik plat gelê toe hy 'n kapwond aan sy kop opgedoen het.
"Dit is my opinie dat die besering aan die kop die eerste besering was, gevolg deur die gesig en toe die borskas en bobene. Dié tipe besering sou die oorledene bewusteloos maak."
Die kapwond het 'n snyplek aan die brein veroorsaak. Terre'Blanche het veelvuldigde breuke aan onder meer sy skedel en onderkaak opgedoen.
Terre'Blanche het ook kneus- en snyplekke aan verskeie dele van sy lyf, insluitende sy tong en lewer, opgedoen. Al die beserings was aan die voorkant van sy liggaam.
Moorad het tydens die lykskouing geen beserings van "tipiese verdediging" gevind nie.
Sy het saamgestem dat Terre'Blanche se beserings ooreenstem met dié wat met 'n panga toegedien is. Terre'Blanche is dood weens stomp geweld aan die kop, borskas en nek.
Die verhoor duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA