Selfmoordsyfer in Oos-Kaapse skole skok
2011-09-19 12:01
Oos-Kaap – 'n Totaal van 96 skoolleerders in die Oos-Kaap het sedert die begin van die jaar selfmoord gepleeg, berig The Times.
Dít is in die departement van onderwys in die Oos-Kaap se tweejaarlikse "Learner Mortality Report" onthul.
Luidens die verslag het gemiddeld 16 kinders maandeliks sedert Junie vanjaar selfmoord gepleeg.
'n Totaal van 109 leerders het in 2010 hul eie lewens geneem.
Beamptes sê dié getal kan baie hoër wees omdat die departement staatmaak op voorvalle wat deur skole aangemeld word.
"Dit beteken dat daar dalk voorvalle is wat nie deur die skole by ons aangemeld is nie," het Loyiso Pulumani, woordvoerder van die departement van onderwys, gesê.
Faktore wat bydra tot die selfmoorde sluit huishoudelike geweld, boelie by skole, groepsdruk en armoede in.
Pulumani het gesê die departement het verskeie programme in plek om die maatskaplike uitdagings en verval van morele waardes in die provinsie aan te spreek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA