Selfmoorddrama op die N1
2011-09-26 07:00
Bloemfontein - ’n Grusame selfmoorddrama het hom Sondag op die N1-hoofweg buite Bloemfontein afgespeel toe die vrou van ’n bekende plaaslike skoolhoof eers voor ’n vragmotor ingery en toe sy dié ongeluk oorleef het, voor ’n kleiner vragmotor ingehardloop het.
Nicolene Hugo (51), vrou van Dawie Hugo, hoof van die Lettie Fouché-skool in Bloemfontein, is Sondagoggend vroeg by ’n kruising sowat 50 km buite Bloemfontein dood.
Sy het glo hul woonstel by die skoolkoshuis Sondagoggend ontsteld verlaat nadat sy vroeër ’n uitval met haar oudste dogter gehad het. Sy het gaan ry “om haar kop skoon te maak”.
Vriende sê hoewel Hugo “’n wonderlik, lojale vrou was wat voluit gelewe het”, was sy ’n erge depressielyer.
Paramedici van ER24 en die polisie was Sondag vinnig op die toneel nadat Hugo omstreeks 11:30 by die Werda/Vergunning-kruising op die N1-hoofweg eers probeer het om voor ’n vragmotor in te ry.
Die geel, swaarvragmotor, wat beeste vervoer het, het uitgeswaai en haar wit Nissan-bakkie net skrams getref.
Sy het egter kort daarna, toe mense haar wou help, voor ’n kleiner, aankomende vragmotor ingehardloop.
Suzane Wille en haar man, James, van Bloemfontein vertel hulle was ná kerk op pad om by vriende op hul plaas te gaan kuier toe die tragiese toneel hom voor hul oë afgespeel het.
Mev. Wille sê nadat Hugo met haar bakkie by die kruising voor die geel vragmotor in is, het haar voertuig aan die oorkant van die hoofweg onder in ’n sloot geëindig.
Wille sê Hugo was in ’n erge toestand van skok. Sy sê hulle was nie die enigste mense wat gesien het hoe Hugo by die stopteken gewag en toe voor die aankomende geel vragmotor inry nie.
“Daar is nie ’n manier dat sy die vragmotor nie gesien het nie. Hy het probeer om die ongeluk te vermy.
“Ons het dadelik na haar gegaan. Ek het uitgeklim en probeer om haar teen die wal uit te help. Sy wou hê ek moet haar los.
“Bo het sy haar losgeruk en op die hoofweg (in die rigting van Bloemfontein) begin stap. Ek moes haar los, want sy sou my voor die voertuie intrek.
“Sy het seker twee keer geskree: ‘Ek gaan eerder voor ’n kar inloop! Niemand kan my help nie!’
“Ek het gesê óns sal haar help. Sy was net te sterk vir my. Ek het toe 10111 vir hulp gebel.”
Oomblikke daarna het hulle die slag gehoor.
Hugo is voor ’n aankomende, ligtevragmotor in. Sy is op slag dood.
Annerie Maeder, ’n vriendin en kollega van die egpaar, sê Hugo was ’n geweldige lojale mens teenoor haar familie en vriende.
“Nie eens die duiwel kon haar stuit as dit gekom het by regverdigheid nie. Sy het voluit gelewe. Sy het nie geskroom om te staan vir dít waarin sy geglo het nie.
“Sy het net so ’n klein hartjie gehad. Sy het omgegee vir ander. En sy was nie bang om te werk nie.”
Maeder sê Hugo het Vrydagaand nog by die skool se lapa ’n groot verjaardagparty vir haar man gehou.
Sy vertel Hugo het op dié aand vir haar gesê op 19 Desember sal sy en haar man 30 jaar getroud wees.
“Sy het vir my gesê: ‘Weet jy, vir die eerste keer gaan dit góéd met ons. Kyk tog mooi na my man as ek iets oorkom.’”
Hugo, wat vir haar man se skool as bemarker gewerk het, het onder meer die besprekings van die uitverhuring van die skool se lapa hanteer.
Sy word benewens haar man oorleef deur twee dogters. Jeanine (21) is ’n kommunikasiekunde-student in haar derde jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Yolandé (17), ’n gr.10-leerling aan die Hoërskool Sentraal.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad