Selebi-verhoor wéér uitgestel
2010-03-03 05:21
Johannesburg - Die korrupsieverhoor van die voormalige polisiekommissaris Jackie Selebi is tot 7 April uitgestel om sy regsverteenwoordigers tyd te gee om met staatsgetuies soos die veroordeelde dwelmbaas, Glenn Agliotti, te vergader.
Van die getuies wat op adv. Jaap Cilliers se lys is, is lede van die nasionale vervolgingsgesag wat verbind word aan stellings wat Agliotti op 'n DVD gemaak het.
Getuies is nou vir die verdediging beskikbaar ná die staat Dinsdagoggend sy saak in die Johannesburgse hooggeregshof afgehandel het.
Cilliers het gesê om die getuies te roep sal die verdediging se aansoek sterker maak om te bewys dat die staat nie 'n saak teen Selebi het nie.
"Ons dink daar is 'n moontlikheid dat ons ná die konsultasie met die getuies die hof kan vra om sommige getuies soos mnr. Agliotti terug te roep," het hy gesê.
"Dit gaan moontlik die saak verder verleng, maar ons kan nie aangaan as ons weet ons kan ons kliënt se saak beter voorlê nie."
Die hof het gehoor dat Selebi vier bankrekeninge by Nedbank gehad het wat aan twee van sy vrou se rekeninge gekoppel is.
Selebi staan tereg op aanklagte van korrupsie en dwarsboming van die gereg, wat verband hou met R1,2 miljoen wat hy glo van Kebble, die veroordeelde dwelmbaas, Glenn Agliotti, en Billy Rautenbach, omstrede gewese Hyundai-baas, ontvang het in ruil vir "gunste".
Hy het onskuldig gepleit.
– Sapa