Selebi vaar uit teenoor NVG
2010-04-19 19:11
Johannesburg - Die voormalige polisiehoof, Jackie Selebi het Maandag gedurende sy korrupsieverhoor teenoor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) uitgevaar wat glo ’n mediaveldtog teen hom georkestreer het.
Selebi het Maandag onder kruisondervraging in die hooggeregshof in Johannesburg gesê: “Edelagbare, die mediaveldtog, die bron (met verwysing na die staatsaanklaer, Gerrie Nel) is die een wat vir my vrae vra.”
Nel het Selebi oor ’n 2003 - videogreep uitgevra wat hy aan die voormalige nasionale direkteur van NVG, Vusi Pikoli gewys het.
Dit het ná die beskuldigings dat Selebi ‘n partytjie van R1 miljoen georganiseer het om sy aanstelling as Interpol se hoof te vier, plaasgevind.
Selebi het glo die video aan Pikoli gewys in ‘n poging om die klagtes van korrupsie en dwarsboming van die gereg teen hom te laat vaar.
Die videogreep het ‘n ontmoeting tussen die dwelmbaas, Glenn Agliotti en Mulangi Mphego, die hoof van misdaadintelligensie behels.
In die video vra Mphego vir Agliotti uit oor nóg ‘n videogreep waarin Agliotti vir Selebi aan die betaling van R1.2 miljoen verbind.
Agliotti het ook beweer dat die Skerpioene, Selebi se kop gesoek het.
"Hoekom het jy die video aan Pikoli gewys? Het jy die video net gewys oor die noem van die R1.2 miljoen?” het Nel aan Selebi gevra.
Selebi het op die vraag geantwoord en gesê: “ Nee."
Die voormalige polisiehoof het ook erken dat hy die videogreep aan Leonard McCarthy, die voormalige hoof van die Skerpioene gewys het as ‘n manier om hom te wys dat hy sy tyd mors en dat sy mense hulle tyd mors deur hom te ondersoek”.
Die verhoor duur voort.
-Sapa