Selebi se siekte 'sal nie gebruik word'
2011-12-06 10:03
Pretoria – Jackie Selebi se prokureurs sê hulle beplan nie 'n poging om die voormalige nasionale polisiehoof se gesondheid te gebruik om hom uit die tronk te kry nie.
Selebi is Maandag per motor na die Pretoria-Sentraal-gevangenis geneem om sy 15 jaar vonnis te begin.
Sy prokureurs het probeer om hom weens sy siekte 'n week langer uit die tronk te hou.
Selebi het die naweek in die Jakaranda-hospitaal in Pretoria deurgebring nadat sy aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding aan bedrog Vrydag in die appèlhof in Bloemfontein van die hand gewys is.
Hy moes hom binne 48 uur vir sy tronkstraf van 15 jaar aanmeld, maar het blykbaar ineengestort nadat hy van die appèlhof se beslissing gehoor het.
Selebi is in die hospitaalafdeling van die gevangenis opgeneem.
Daar word verneem dat die 61-jarige Selebi, wat 'n diabeet is, dialise ondergaan het en dringend 'n nieroorplanting moet ondergaan.
Selebi se prokureurs het gesê hulle het nie onmiddellikke planne om te vra vir mediese parool of vir Selebi om in 'n privaathospitaal behandel te word nie.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter