Selebi se gesondheid 'verbeter'
2011-12-21 22:55
Pretoria – Die veroordeelde voormalige nasionale polisiehoof Jackie Selebi se gesondheid verbeter, maar hy is steeds in die hospitaal, het die departement van korrektiewe dienste Woensdag gesê.
"Hy is steeds in die hospitaal. Ek kan bevestig dat sy gesondheid verbeter, maar sy toestand is steeds ernstig," het Zacharia Modise, hoofadjunkkommissaris: korreksies van die departement van korrektiewe dienste (DKD), gesê.
The New Age berig dat Selebi Maandagoggend na die nefrologie-saal van die Steve Biko Akademiese Hospitaal geneem is. Die departement het aan die koerant gesê Selebi ondergaan toetse.
Wynanda Coetzee, Selebi se prokureur, was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
Selebi het op 5 Desember by die tronk aangemeld om sy vonnis van 15 jaar te begin uitdien. Hy is skuldig bevind aan korrupsie nadat hy geld van die veroordeelde dwelmhandelaar Glenn Agliotti ontvang het en ‘n Britse dwelmondersoek-verslag aan Agliotti gewys het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA