Selebi sal nag in hospitaal spandeer
2011-12-20 14:25
Johannesburg – Die veroordeelde voormalige polisiehoof Jackie Selebi sal in alle waarskynlikheid nog ‘n nag in die hospitaal spandeer, het sy regsverteenwoordiger Dinsdag gesê.
Wynanda Coetzee wou nie sy toestand bespreek nie.
Sy het gesê sy sal teen Woensdagmiddag kommentaar oor sy toestand kan lewer.
Die New Age-koerant het vroeër berig Selebi is Maandagaand onder gewapende toesig na die niereenheid van die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria geneem.
Die departement van korrektiewe dienste het aan die koerant gesê Selebi ondergaan toetse by die hospitaal.
“Ons kan bevestig dat dit nie goed gaan met hom nie... ek het hom gesien en hy lyk nie goed nie,” het Tom Monyane, kommissaris van korrektiewe dienste, gesê.
“Hy word nog gediagnoseer. Hy is in ‘n ernstige toestand, maar sy lewe word nie bedreig nie.”
Selebi het op 5 Desember by die tronk aangemeld om sy vonnis van 15 jaar te begin uitdien. Hy is skuldig bevind aan korrupsie nadat hy geld van die veroordeelde dwelmhandelaar Glenn Agliotti ontvang het en ‘n Britse dwelmondersoek-verslag aan Agliotti gewys het.
Hy was in dié tyd president van Interpol.
Sy appèl teen sy skuldigbevinding is op 2 Desember in die Appèlhof verwerp.
Selebi het die verrigtinge op televisie by sy huis gekyk en inmekaargesak toe hy die uitkoms gehoor het, het Coetzee in dié stadium gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA