Selebi ‘sal moet sit’
2011-12-03 07:05
Hanti Otto en Philip de Bruin
Johannesburg – Jackie Selebi, korrupte gewese polisiebaas, is Vrydag per ambulans na ’n hospitaal gehaas nadat die appèlhof sy appèl teen sy skuldigbevinding aan korrupsie verwerp het.
Hy moet hom nou binne 48 uur aanmeld om sy tronkstraf uit te dien.
Selebi se prokureur, Wynanda Coetzee, het gesê hy sal hom dan aanmeld – “al lê hy ernstig siek in ’n hospitaal en al moet hy dan na ’n tronkhospitaal oorgeplaas word”.
Selebi (61) was nie Vrydag in die appèlhof in Bloemfontein toe die kort uitspraak gelewer is nie.
Hy was tuis in sy Waterkloofrif-huis in Pretoria en het op televisie na die uitspraak gekyk.
Onmiddellik daarna het hy glo ineengestort en van erge borspyne gekla.
’n Rukkie later het ’n ambulans van Netcare 911 opgedaag. Selebi is op ’n draagbaar uit sy huis gebring. Die ambulans het sonder loeiende sirenes weggery. Selebi is in die Jakaranda-hospitaal opgeneem.
Daar was gisteraand groot onduidelikheid oor die aard van sy siekte.
’n Hoë offisier wat saam met Selebi gewerk het, het gesê hy ly aan Parkinson se siekte en dat sy toestand die afgelope tyd drasties agteruitgegaan het. “Hy is eintlik ’n baie siek man en ons vermoed hy was net te trots om iets te sê.”
Die familie het aan Steyn, sy prokureur, gesê hy is al lankal siek, maar hulle wil nie die aard van sy siekte bekend maak nie. Hulle het aan Steyn ontken dat hy aan Parkinson se siekte ly.
Oor die moontlikheid van ’n aansoek om appèl na die konstitusionele hof, het Steyn gesê sy kan nie daaroor praat nie omdat sy eers met Selebi moet konsulteer “en hy is nou te siek”.
Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad, het gesê wat hom betref sal Selebi moet tronk toe – “finish en klaar”.
Appèlregters K. Mthinyane, S. Snyders, R. Bosielo, L. Leach en L. Theron het eenparig, hoewel in twee afsonderlike uitsprake, bevind dat daar wel ’n korrupte verhouding tussen Selebi en die dwelmhandelaar Glenn Agliotti was.
“Die staat het daarin geslaag om bo redelike twyfel te bewys dat die betalings (van Agliotti aan Selebi) met korrupte bedoelings deur Selebi aanvaar is,” het die regters gesê.
De Vos het gesê die konstitusionele hof het reeds in vroeëre uitsprake gesê hy is nie bereid om appèlle te akkommodeer wat nie suiwer op feitegronde gebaseer is nie.
“Hy kan dalk probeer om een van sy aanvanklike gronde van appèl in die hooggeregshof, naamlik dat hy geen billike verhoor gekry het nie ‘in die lig van die onbehoorlike motiewe en gedrag van die ondersoekspan en die vervolgingspan’, nou weer as ’t ware uit die dood te laat opstaan. Maar sowel die hooggeregshof as die appèlhof het dit reeds as grond van appèl verwerp.”
Coetzee het in reaksie daarop gesê so ’n moontlike appèlgrond “kan nie uitgesluit word nie”.
Prof. Petro Swanepoel, hoogleraar in strafreg aan Unisa, stem met De Vos saam en het gesê “dit lyk maar ’n bietjie na ’n swarigheid” vir Selebi om nou konstitusionele hof toe te gaan.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger