Selebi-saak laat mense gaap
2010-07-01 17:00
Johannesburg – Regter Meyer Joffe het Donderdag ure geneem om deur die groot aantal inligting te werk in die korrupsieverhoor van die voormalige polisiehoof Jackie Selebi.
Ten spyte van die ysige winterweer het die skare in die publieke galery van die Johannesburgse hooggeregshof hulself afgekoel met papiere en notaboekies. Sommiges het selfs vir ‘n oomblik ingesluimer.
Na bewering was daar ‘n tegniese probleem met die hof se lugversorging.
Dié bedompige hof is glad nie gewild onder regslui nie. Na bewering werk die hysbak in die gebou selde en is meeste van die ligte buite werking.
Regter Joffe het Donderdag aangekondig dat hy nie sy uitspraak sal kan lewer nie en die saak uitgestel tot Vrydagoggend.
“Ek gaan nie nou klaarkry nie. Ons sal Vrydag moet voortgaan met die verrigtinge,” het hy gesê.
Hy het ‘n groot deel van Donderdag spandeer om deur die hope bewysstukke te werk wat aan hom voorgelê is in Selebi se saak wat reeds miljoene rande beloop het.
Selebi staar aanklagtes van korrupsie en regsverydeling in die gesig in verband met R1,2 miljoen wat hy glo van verskeie mense, insluitend die sakeman, Glenn Agliotti, ontvang het in ruil vir gunste.
Selebi het skuld ontken en die staat het heftig op Agliotti staatgemaak om Selebi skuldig te bevind.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA